Vriende van Afrikaans Tuis Afrikaans Projekte Artikels oor Afrikaans Afrikaans Fotos VVAfr Lidmaatskap Kontak Afrikaans

# Johan Combrink Gedenklesing - 9 Februarie 2012 om 18:30 in die Jannasch-saal (Endler), Stellenbosch met professor Bernard Combrink as spreker

In 2005 het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika 'n versoek van die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) goedgekeur om 'n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans voor te berei. Hierdie projek het in 2006 begin. Waarom is so 'n vertaling nodig? Hoe sal die beplande vertaling verskil van die bestaande Afrikaanse vertalings van die Bybel? Hoe verloop die vertaalproses? Hoe ver het die vertaling reeds gevorder? Om belangstellendes in staat te stel om ingelig op bogenoemde vrae te kan antwoord, het die Vriende van Afrikaans prof Bernard Combrink genooi om die gedenklesing waar te neem. Hy is sedert 2006 die projekleier van die Afrikaanse Bybelvertalingsprojek. (Kyk gerus intussen na die webblad www.nuwekerkbybel.co.za waar heelwat inligting asook bepaalde vertalings reeds beskikbaar is.) Na die lesing drink ons die gebruiklike glasie wyn saam. Laat weet ons asseblief voor 6 Februarie 2012 as u die geleentheid wil bywoon by vvafr@sun.ac.za of 021 8083744/5.

 

# SA Talewet

Help mee dat Suid-Afrika ‘n uitstekende talewet kan hê. Gaan na www.satalewet.co.za en neem deel.

# Borg 'n storieboek
Borg ‘n storieboek vir net R2,70

Maak 10 kinders se harte bly met R27. Vir elke R2,70 wat jy afstaan, kan ‘n kind sy eie leesboekie in die hand kry.

Die Vriende van Afrikaans het besluit om deel te neem aan die Helpende Hand se Skooltassie-projek deur R10 000 te skenk uit ons boekefonds. Hiermee kan die VVA 3 700 boekies (Storietyd uitgegee deur die Sunday Times) koop.
Helpende Hand beplan om ongeveer 6000 skooltassies uit te deel aan
volgende jaar se graad-eentjies. Ná ons skenking kort hulle dus
2 300 boekies vir die skooltassies. Net 230 mense moet elk R27 gee of 2300 mense moet elk R2,70 gee om hierdie ideaal te bereik.

Komaan Afrikaanssprekendes, kontak die Vriende van Afrikaans by 021 8083744 of vvafr@sun.ac.za as jy wil help dat elke skooltassie wat die Helpende Hand uitdeel, ‘n storieboekie ook gaan inhê.

Samel ‘n bedraggie in onder jou vriende of in jou gesin om dit die moeite werd te maak.

# Vespers van Rachmaninof - in Afrikaans!
Hierdie groot projek van die VVA het ons verwagtinge oortref. Nie alleen het mev Hélène Dippenaar van Welgemoed uit alle oorde groot lof gekry vir haar uitmuntende vertaling uit Russies nie (lees die artikel wat in die April uitgawe van By verskyn het), maar boonop was die openingsaand op 14 Augustus in die Moederkerk op Stellenbosch ‘n reusesukses. Ek wens ons kon al ons lede hier gehad het. Die Pro Cantu- en Kaapstad Stadskoor het hierdie uitdagende werk voortreflik uitgevoer voor ‘n stampvol kerk van ongeveer 600 mense.

Op 21 en 22 Augustus kon mense in Kaapstad die uitvoerings bywoon in die Bishops Seunskool se kapel en ook die Centre for the Book. Verdere uitvoering was in Welgemoed (11 September), die Paarl (2 Oktober) en in die Voortrekkermonument op 26 September om 16:00.

Hopelik is dit nie waar die projek eindig nie. Daar is ‘n CD oppad, ‘n bladmusiekboek van die volledige werk in Afrikaans en enige uitvoering waarheen die publiek die koor wil nooi. Kontak gerus die koorbestuurder, Otto Bester by 079 894 5393.


Hierdie vertaling lewer ‘n groot bydrae tot goeie gewyde musiek in Afrikaans. Ons wil kore aanmoedig aanmoedig om dit te sing. Die hele werk hoef nie aangepak te word nie – daar is 15 aand- en oggendgesange om uit te kies. Boonop kan die toonsette hier gratis afgelaai word [1.2Mb]. Die vertellerteks wat tussen-in voorgelees kan word, is deur Leon Starker saamgestel en kan hier afgelaai word [280Kb].
 
 
Afrikaans nuus
Afrikaans Feite
Nuusbrief

Skakels
Te koop
     
       
                       
Tuis | Projekte | Skakels | Fotoblad | Lidmaatskap | Kontak ons
Warm Nuus | Feite | Nuusbrief | Lesings | Te koop