Vriende van Afrikaans Tuis Afrikaans Projekte Artikels oor Afrikaans Afrikaans Fotos VVAfr Lidmaatskap Kontak Afrikaans
Boektrommelprojek

Ons vereniging, die Vriende van Afrikaans, hou ons besig met die dinge van Afrikaans. Een van ons projekte, of ideale as jy wil, is dat soveel kinders as moontlik in Suid-Afrika toegang het tot boeke. En nie hoe nie - mooi, interessante, blink boeke wat hulle verlei om te lees.

Die Vriende van Afrikaans se boekverspreidingsprojek werk soos volg: ons takke en ander goedgesinde vriende en/of lede samel geld in. Die skole wat deur die VVA geïdentifiseer is, word dan deur Biblionef, ’n boekskenkerorganisasie in Pinelands, gekontak. Biblionef het geskikte boeke in al die amptelike landstale. Biblionef vind uit presies wat die behoeftes van die skool is en gaan dan ’n kontrak met die skool aan. Hulle voorsien die skool dan van die geskikte boeke. As die skool nie ’n biblioteek het nie, kry hulle die boeke in ’n vervoerbare, toesluitbare trommel.

Ons het egter nog baie helpers nodig, sakemanne en mense met oop hande en harte, maar ook gewone mense wat planne kan maak. En is dit nie ‘n openbaring om te ontdek hoeveel sulke mense daar in Suid-Afrika rondloop nie. Hulle haal nie die koerante nie, maar doen elkeen ‘n stukkie ewigsheidwerk wanneer hulle sorg dat ‘n kind met ‘n blink gesiggie kan gaan sit en deur ‘n boek blaai wat vir hom of haar vir rukkie wegneem na ‘n plek waar hy fisies dalk nooit gaan uitkom nie.

Skakel ons as jy wil meedoenaan hierdie heerlike projek.

"Maak nie saak hoe arm nie, 'n kind wat lees, is 'n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verwaarloos of verlate nie, 'n kind wat lees is 'n gekoesterde kind. Maak nie saak hoe onverdraagsaam 'n gemeenskap nie, 'n kind wat lees begryp en verstaan. Maak nie saak hoe geestelik verarm 'n familie is nie, 'n kind wat lees is 'n intelligente en ingeligte kind. Maak nie saak hoe onmenslik 'n gemeenskap nie, 'n kind wat lees word 'n menslike kind." - Antjie Krog

 
Historiese Dagboek
Hierdie publikasie bestaan uit 365 inskrywings van ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis plaasgevind het. Daar is een gebeurtenis vir elke dag gekies, maar daar is ook aandagkolle wat verwys na ander gebeurtenisse op daardie dag hier en ook elders in die wêreld. Elke inskrywing is voorsien van bronverwysings vir lesers wat meer oor die betrokke dag se gebeurtenis wil lees. Ons voorsien dat dit ook baie vrugbaar deur geskiedenisonderwysers en ouers gebruik sal kan word om jongmense se belangstelling in ons geskiedenis te prikkel.

Griffel Media gee die boek uit en dit behoort vroeg volgende jaar op die winkelrakke te wees. Lees 'n uittreksel uit die boek...

Musiekprojek

2004: Die wêreldpremiêre van die eerste Afrikaanse simfonie, Sinfonìa africana, vind plaas in die Kaapse Stadsaal en die Endlersaal te Stellenbosch, uitgevoer deur die Kaapse Filharmoniese orkes. Dit was ‘n opdragwerk van die Vriende van Afrikaans aan die bekende komponis, Hendrik Hofmeyr.

2005: Ou Vriende, ’n dubbel-CD met snitte van bekende Afrikaanse sangers en ook koormusiek uitgevoer deur van die beste kore in Suid-Afrika, word bekendgestel. Die CD is saamgestel deur ’n musiekkenner en onderwysman, dr Etiènne Smit, van Wellington. Dit was ’n uiters geslaagde fondsinsamelingsprojek. Enkele CD’s is nog by die kantoor beskikbaar (navrae@vriendevanafrikaans.co.za).

2007: Die Vriende van Afrikaans in samewerking met die Canticum Novum (voorheen die US Studentekerkkoor), huldig die bekende komponis en toonsetter, Pieter van der Westhuizen, in die Endlersaal op Stellenbosch. Die Pieter van der Westhuizen Huldigingsbundel word aan Oom Pieter en sy gesin oorhandig. Dit bestaan uit 300 bladsye toonsettings met bladmusiek daarby waarvan sommige in Oom Pieter se kenmerkende netjiese handskrif. Die bundel is by die kantoor beskikbaar (navrae@vriendevanafrikaans.co.za).


2007 - 2010: Ons is besig met ’n opwindende nuwe musiekprojek. Ons wil graag die 14 Vespers van Rachmaninoff in Afrikaans laat vertaal sodat ons kore hierdie pragtige musiek ook in Afrikaans kan sing. Ons het ’n vertaler opgespoor wat toevallig ook ’n musikus is! Sy het pas ’n proefvertaling gedoen wat ons nou deur dirigente wil laat toets voordat ons voortgaan. Hou hierdie spasie dop!!


Slypskole
Die Vriende van Afrikaans hou elke jaar ’n aantal slypskole vir Graad 7-leerders. Ons het dit al in die Paarl, in Malmesbury en op Stellenbosch aangebied vir skole in daardie omgewings. Ons het dit ook al in opdrag van die Laerskool Eikestad vir hulle dramaleerders aangebied.

Ons gebruik ’n uiters knap groep aanbieders wat die leerders van die begin tot einde boei. Hulle is almal personeellede van die Eenheid vir Afrikaans van die US Taalsentrum. Op hierdie dag leer die leerders hoe om met aandag te lees, hoe om ’n stuk drama te skryf en hoe om dit op te voer. Aan die einde van die dag volg daar ’n insiggewende portuurgroepassessering. Onderwysers woon die dag as waarnemers by en ontvang ’n nuttige handleiding. Lees verder oor hierdie gewilde aanbieding.

 
Afrikaans nuus
Afrikaans Feite
Nuusbrief

Skakels
Te koop
 
 
 
 
 
     
   
Koop-'n-Afrikaanse boek-dag
Ons reël sedert 2005 op ’n datum rondom 14 Augustus die "Koop-een-Afrikaanse-boek-dag". Dit val saam met die jaarlikse Afrikaansweek wat landwyd deur Afrikaanse instansies en skole gevier word. Daar word op hierdie dag 'n beroep gedoen op almal wat Afrikaans praat om een Afrikaanse boek te koop, om te hou of om weg te gee. Dit is 'n bewusmakingsveldtog wat ten doel het om die aandag te vestig op die fantastiese Afrikaanse boeke wat op die mark is, maar ook om 'n leeskultuur aan te moedig. Boekwinkels, uitgewers, die openbare media, vriende en goedgesindes neem hieraan deel, soveel so dat die dag al openbare besit geword het!
     
Louw-huis op Sutherland
In Sutherland is ‘n museum wat bekend staan as die Louw-huis omdat die digterbroers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw daar gebore is en hul kinderjare daar deurgebring het. Die huis se struktuur is nog soos dit oorspronklik daar uitgesien het toe die Louws daar gewoon het. Die Louw-broers se vader was die dorp se prokureur. Die museumraad wat bestaan uit ’n groep vrywilligers, het fondse ingesamel, die huis gekoop en die museum begin inrig. Dis in 1986 ingewy en word deur ‘n raad van ses lede beheer. Ons help die museum finansier met donasies. Dis werklik ’n besoek werd. Kontak die huidige voorsitter, Gerhardus du Plessis, gerus by 023 5711428.
Tuis | Projekte | Skakels | Fotoblad | Lidmaatskap | Kontak ons
Warm Nuus | Feite | Nuusbrief | Lesings | Te koop